
=====================================================================
Toegevoegde teenoor verminderde tweetaligheid (AV 6:1)
=====================================================================

Inhoudsoorsig


Toegevoegde teenoor verminderde tweetaligheid

Ernst Kotz   waarsku om Afrikaanssprekende kinders na Engelse skole te stuur kan lei tot 'n soort halfbakke tweetaligheid. WAAROM is 
Afrikaanssprekendes oor die algemeen beter in staat om Engels te praat as Engelses Afrikaans? En waarom verkies sprekers van Xhosa, Zoeloe 
en Sotho dat hulle kinders deur medium van Engels op skool onderrig word, eerder as deur middel van hulle eerste taal? Die antwoorde op 
hierdie vrae is van uiterste belang, nie net vir 'n goeie begrip van die meertaligheidsituasie in Suid-Afrika (en elders) nie, maar ook om 
sinvolle besluite te kan neem oor die wyse waarop so 'n situasie gehanteer moet word.

Meertaligheid by individue in 'n situasie van sosiale veeltaligheid (waar verskillende taalgemeenskappe naas mekaar bestaan) is normaalweg 
die resultaat van noodsaak, en nie van 'n spontane belangstelling in of liefde vir 'n ander taal nie. Volgens Skutnabb-Kangas (1990:6):
"The majority of multilinguals are not multilingual because they necessarily consciously chose to become so. It is rather because all those 
people whose mother tongues have no  rights in their country have been forced to learn other languages in addition to their own."

Dit is 'n oorvereenvoudiging, omdat die status en nuttigheidswaarde van die "ander" taal 'n baie belangrike rol speel by die besluit om so 
'n taal te leer. Groepsdruk deur die brer gemeenskap, wat versterk word deur die erkende status en nuttigheidswaarde van die nie-
moedertaal, kondisioneer sprekers van 'n gemarginaliseerde taal om heel spontaan die knie te buig en die "ander" taal te gebruik in 
situasies waar dit saak maak, en spesifiek waar hulle afhanklik is van hulle andertalige gespreksgenoot om inligting te bekom of wanneer 
hulle eenvoudig graag indruk wil maak. Die gevolg van hierdie voorkeur is dat daar 'n veel hor voorkoms van meertaligheid is by sprekers 
van Afrikatale (insluitend Afrikaans) as by Engelsmoedertaliges.

Nou is dit inderdaad so dat individuele meertaligheid 'n groot bate is en baie deure vir die spreker kan oopmaak. Die meertalige individu 
geniet groot voordele bo sy eentalige medemens, wat kultureel in 'n kleiner wreldjie grootword en dikwels 'n eng siening van sosiale 
realiteite het. Maar die wyse waarop 'n tweede (of verdere) taal aangeleer word, kan dramatiese gevolge inhou vir die leerder, en in plaas 
van voordele, ernstige nadele vir die intellektuele ontwikkeling van die meertalige tot gevolg h.

Hoe kan dit gebeur? Navorsing wat oor die afgelope twee dekades gedoen is, dui daarop dat die effektiewe aanleer van 'n verdere taal 'n 
bepaalde roete moet volg en dat die aanleerproses teenproduktief kan wees indien die roete gegnoreer word. Daar bestaan naamlik 'n leke-
persepsie dat die natuurlikste en vinnigste manier om kinders 'n ander taal te leer beheers die blootstelling aan die gebruik van daardie 
taal as medium van onderrig op skool is. Dit is onderliggend aan die keuse van miljoene swart ouers om hulle kinders vanaf graad 6 deur 
medium van Engels te laat onderrig, en soortgelyke keuses word toenemend deur Afrikaanssprekende ouers uitgeoefen. Maar hierdie metode om 
kinders Engels te laat leer praat, het geen wetenskaplike basis nie, en lei meestal tot 'n halfbakke tweetaligheid, wat meebring dat 'n 
kind uiteindelik nie een van die twee tale wat sy/hy gebruik, behoorlik beheers nie.

Wat is dan die roete vir die effektiewe verwerwing van 'n verdere taal, indien dit gekoppel word aan blootstelling aan daardie taal as 
onderrigmedium?

Baie belangrike insigte wat betref die gebruik van 'n tweede of derde taal as medium van onderrig het oor die afgelope 20 jaar deur die 
werk van Jim Cummins   (Vgl. Cummins 1984, Cummins & Swain 1988) na vore gekom. Hy onderskei by die ontleding van taalvaardigheid tussen 
twee komponente, nl. "basic interpersonal communication skills" (of BICS), wat nodig is vir alledaagse kommunikasie, en "cognitive academic 
language proficiency" (of CALP), d.i. vaardighede wat nodig is om kognitief veeleisende inhoude te kan verwerk.

Oor BICS het Cummins bevind dat (1) dit op enige stadium heel gemaklik aangeleer kan word as daar genoeg kontekstuele ondersteuning is (bv. 
in 'n vakgerigte taalaanleerprogram), en (2) dat BICS in die eerste en tweede taal relatief onafhanklik van mekaar kan ontwikkel. Dit 
beteken dat 'n mens nie op vaardighede in die eerste taal hoef staat te maak om dit in die tweede taal te verwerf nie. In die praktyk vind 
'n mens bv. dat 'n Afrikaanse kind wat (miskien op 'n plaas) die meeste van sy tyd deurbring met Zoeloe- of Engelse maatjies, makliker in 
Zoeloe of Engels op die interpersoonlike vlak kan kommunikeer as met sy moedertaalportuurs.

Aan die ander kant ontwikkel CALP interafhanklik. Dit beteken dat die tipe breinvaardighede wat nodig is om intellektueel meer veeleisende 
take te verrig, afhanklik is van die verhouding tussen die eerste taal en die tweede taal, en dat daar net effektief deur middel van die 
tweede (n die eerste) taal geleer kan word indien beide tale goed gevestig is. Hierdie sg. Interafhanklikheidshipotese van Cummins 
suggereer dat die vlak van tweedetaalvaardigheid wat 'n leerder (veral kinders) verwerf in 'n besliste mate afhang van die 
ontwikkelingsvlak wat in die eerste taal bereik is. 'n Tweede taal wat aangeleer word nadat CALP in die eerste taal gevestig is, lei tot 
toegevoegde tweetaligheid (of "additive bilingualism"). Omgekeerd lei die poging om CALP voortydig in die tweede taal te vestig, m.a.w. 
voordat die spreker geleer het om meer ingewikkelde en abstrakte begrippe in die eerste taal te hanteer, tot verminderde tweetaligheid (of 
"subtractive bilingualism"). Heugh (1995) s ook in hierdie verband met die oog op die situasie hier te lande:

Swak resultate verstaanbaar

"Subtractive or transitional language programmes and curricula make little provision for the transfer of knowledge and cognition from the 
first language to the second, and this is likely to impair cognitive development."

Die taalbeleid wat die vorige en die huidige regering tot vandag toe t.o.v. voertaal in die voormalige swart skole gevolg het, lewer die 
soort resultate wat die Interafhanklikheidshipotese bevestig. Voordat die leerlinge/leerders die volle gebruik van hulle eerste taal (BICS 
n CALP) onder die knie het (bv. om logies te kan argumenteer of om wiskundige begrippe te verstaan), word daar van hulle verwag om tegelyk 
'n nuwe medium te leer bemeester n gevorderde vaardighede te verwerf. Die swak resultate wat die skoolsisteem oplewer, selfs n die 
beindiging van "Bantoe-onderwys", word in die lig hiervan meer verstaanbaar. As taal die medium is waardeur alle opvoeding plaasvind, en 
di medium uit die staanspoor gebrekkig is, begin skoolkinders in Suid-Afrika wat voortydig van 'n tweede (of derde) taal afhanklik gestel 
word, met 'n agterstand wat hulle nooit weer inhaal nie. Die enorme breinpotensiaal wat gevolglik in Suid-Afrika deur verminderde of 
halfbakke tweetaligheid verspil word, kom ons ekonomie duur te staan. Vir Afrikaanssprekendes in enkeltaalhuisgesinne wat hulle kinders 
uitsluitlik via Engels CALP-vaardighede laat verwerf, gee dit inderdaad ook iets om oor na te dink.

'n Indiese taalsosioloog, Pattanayak, verwys soos volg na die gevolge van die gebruik sonder meer van tale van wyer kommunikasie, soos 
Frans, Portugees en Engels, as onderrigmedia in die Derde Wreld (1986):
"As the medium of instruction such languages do not only impede the growth of indigenous languages but they also inhibit the interaction of 
science with society, generate inappropriate technology and create an educated elite committed to pursuing the lifestyle of the developed 
world."

Hoe kan ons nou ons taalaanleervermons so aanwend dat die kwaliteit van ons individuele meertaligheid, en daarmee saam van ons 
intellektuele vermons, ten beste ontwikkel? Die Afrikaanse taalgemeenskap, asook die ander Afrikataalgemeenskappe, kan en moet bewus 
gemaak word van die noodsaaklikheid om die waarde van hulle eie tale te verhoog deur kognitiewe vaardighede in daardie tale te verwerf en 
daarmee saam die toegevoegde waarde van individuele veeltaligheid wat interafhanklik met die eerste taal verwerf is. Die intellektuele 
prestasies van talle individue wie se twee- of veeltalige vermons op di wyse ontwikkel is (ook internasionaal) kan as voorbeeld dien om 
uiteindelik by besluitnemers in ons land die insig te laat posvat dat effektiewe taalverwerwing en toegevoegde veeltaligheid die sleutel 
tot die ontsluiting van ons breinkragpotensiaal is.

Verwysings

* Cummins, Jim & Merryl Swain. 1986. Bilingualism in education: Aspects of theory, research and practice. Londen: Longman.
* Cummins, Jim. 1984. Bilingualism and special education: Issue in assessment and pedagogy. Clevedon: Memtilingual Matters.
* Heugh, Kathleen. 1995. Disabling and enabling: implications of Language policy trends in South Africa. In Mesthrie, R. (red.) Language 
and social history: studies in South African sociolinguistics. Kaapstad: David Philip.
* Skutnabb-Kangas, T. 1990. Language, literacy and minorities: a Minority Rights Group report. Londen: The Minority Rights Group.
Prof. Ernst Kotz   is verbonde aan die Departement van Afrikaans en Nederlands van die Universiteit van Port Elizabeth.

Hierdie blad: <http://www.afrikaans.com/av6110.html> Voeg kommentaar toe aan hierdie bladsy. Skryf gerus aan die redaksie.  Kopiereg (c) 
Stigting vir Afrikaans 1999     Blaai terug | Blaai om
.

Enige woord Al die woorde Presiese frase   /// Afrikaans Vandag -- Maart 1999 /// 'Ek is Afrikaanse Euro-Afrikaan' (AV 6:1) /// Afrikaans, 
jy en die Grondwet (AV 6:1) /// Veeltaligheid gekoester deur jong mense (AV 6:1) /// Geletterdheid (AV 6:1) /// HOOFARTIKEL-- Jaar met nuwe 
uitdagings (AV 6:1) /// Taalervaringe van 'n Duitse immigrant (AV 6:1) /// Afrikaanse posiebron vir Lae Lande (AV 6:1) /// In Verneukpan 
en Boesmanland lf Afrikaans (AV 6:1) /// Onbeskaamd granaatbos /// Toegevoegde teenoor verminderde tweetaligheid (AV 6:1) /// Kortverhaal 
-- Huisdiere (AV 6:1) /// Onderwys-werksessies (AV 6:1) /// Afrikaanse Bybel op die Internet (AV 6:1) /// Jan Schutte: 'n Huldeblyk (AV 
6:1) /// 'Dominee, 'n mooi sin is 'n mooi ding' (AV 6:1) /// Ligter taalmomente oor die grensdraad /// Nuwe era vir Afrikaanse boek (AV 
6:1) /// Op spoor van Maleise invloed (AV 6:1) /// Millennium-blues (AV 6:1) /// Afrikaans kuier oor die drumpel (AV 6:1) /// Hy 
verpersoonlik eerlikheid (AV 6:1) /// Ons lesers skryf (AV 6:1) /// Koningin stap voor in die ry (AV 6:1) /// Di koor gee jou hoop (AV 
6:1) /// Met 'n uitsig op 'n park (AV 6:1) ///

